News article
  >  News  >  Article

21 July 2016

Volksblad: Sy droom word sy loopbaan

Van kleins af het Makara Tsoenyane se ma hom ondersteun in sy droom om ’n kunstenaar te word. Vandag skep en verkoop hy sy kuns vanuit sy oorlede ouma se huis in Fase 6, Bloemfontein, en leer daagliks kinders in omliggende skole hoe om self kuns te beoefen en ’n lewe daaruit te maak.

Wat Tsoenyane (34) egter kortkom, is ’n bakkie om self sy kuns na kunstefeeste en -kompetisies oor die land heen te vervoer. Dit is wat hy hoop om met die R50 000 aan te skaf as hy die Phatshoane Henney New Breed-kunskompetisie vir opkomende Vrystaatse kunstenaars wen.

“Ek was onlangs erg ontevrede toe my kunswerke met die vervoer ná ’n kunsgeleentheid hierheen beskadig is. Dit mag nie weer gebeur nie,” vertel hy kopskuddend terwyl ons deur die townshipstrate na sy kunsateljee tuis stap.

Tsoenyane gebruik verskeie mediums om sy kuns te skep, maar is veral bekend om plastiek op plastiek, wat gebore is uit die inspirasie wat hy uit werke van die Suid-Afrikaanse kunstenaar Mbongeni Buthelezi put. Die kunswerk wat hy vir die New Breed-kunskompetisie skep, is ’n imposante selfportret, ook uit plastiek gemaak.

“Ek gebruik enige plastiek wat ek kan kry, van ou speelgoed tot botteldoppies. Ek leer dieselfde vir die skoolkinders – dat ons ‘groen’ moet leef en herwinbare produkte moet gebruik om iets nuuts te maak.”

Oorkant sy huis is Matla Primary School waar Tsoenyane die resident- Vrystaatse kunstenaar vir Room 13 is, ’n landwye inisiatief wat ’n kunsateljee- en entrepreneuriese omgewing vir minder bevoorregte kinders bied. Terwyl hy gesels, sypel groepies kinders in netjiese skooldrag sy kunsklaskamer binne om hul oorskiettyd met kunsaktiwiteite te verwyl. Die mure en toonbanke is oortrek met kinderkuns, van verf- en tekenwerke tot papiermaché en ingekleurde Basotho-patrone. Dit is duidelik dié klaskamer trek die kinders aan soos ’n magneet.

“Skole in die township bied bitter min kulturele aktiwiteite. Daar is gewoonlik net sport. Daarom is dit vir my baie belangrik om die kinders meer van kuns te leer, ’n positiewe stokperdjie waarmee hulle iets kan bereik. Ek soek gedurig kunsverblyf en -kompetisies op die internet om vir hulle te wys daar is talle platforms vanwaar hulle ’n kunsloopbaan kan begin. En dat jy wel ’n lewe uit kuns kan maak.”

Tsoenyane se lewe getuig daarvan. Hy het grootgeword in Rocklands waar hy al op laerskool ‘pak slae gekry het’ omdat hy in klastyd eerder wou teken as om te lees en skryf. Toe hy egter ’n plaaslike kunskompetisie wen, het sy kunssinnige ma, Francina, met erns van sy talent kennis geneem. In kunsklasse by Oliewenhuis-kunsmuseum, kuns as hoërskoolvak en ’n N6-sertifikaat in kuns en ontwerp aan die Bloemfontein-kollege (nou Motheo FET) is hy stelselmatig in kuns opgelei.

Dit het hom toegerus om in 2005 die eerste Room 13-ateljee in Suid-Afrika in die Mmulakgoro Intermediêre Skool in Botshabelo te begin waar hy nege jaar kunsonderwyser was. Vandag het Suid-Afrika sewe sulke ateljees as uitvloeisel van die eerste Room 13 wat in 1994 in Fort William, Skotland, gevestig is en na die res van die wêreld uitgebrei het.

Dit het ook gelei tot Tsoenyane se kunsverblyf in 2006 en 2008 in Skotland. Hy was al deel van verskeie groepuitstallings in Suid-Afrika en wil graag in die nabye toekoms sy eerste solo-uitstalling hou.

Die belangrikste is egter dat hy homself en sy drie kinders met sy kuns onderhou. Hy skat in sy leeftyd het hy al tussen 40 en 50 kunswerke verkoop.

“Dit is ’n voorreg om my brood en botter te verdien met iets waarvoor ek so lief is. Ek besef dit elke dag.”

Vir meer inligting oor die Phatshoane Henney New Breed-kunskompetisie besoek www.phinc.co.za/art, of kontak Magdel Louw by 051-400-4085 of magdel@phinc.co.za.

 

Belangrike kompetisie-inligting

  • Enigeen ouer as 18 kan inskryf mits hy nog nie ’n solouitstalling met meer as 20 werke gehad het nie.
  • Enige medium word aanvaar, behalwe installasies, performance-kuns en oudiovisueel.
  • Werke moet tussen 5 en 11 September by Oliewenhuis ingehandig word.
  • Hieruit word werke gekeur wat van 20 Oktober tot 27 November in Oliewenhuis en op die webwerf www.phinc.co.za/art uitgestal word.
  • Die wenners word op 17 November bekend gemaak.
  • Die wenner ontvang R50 000 en die naaswenner R20 000. Twee merietewenners ontvang R10 000 elk en die publiek se gunsteling ook R10 000.

Related

  • Recent
  • Popular
  • Tag