News article
  >  News  >  Article

Netwerk24 and Volksblad: Pretorius wins New Breed with 'enchanting art'
24 November 2016

Netwerk24 and Volksblad: Pretorius wins New Breed with 'enchanting art'

Elretha Britz fromVolksblad and Netwerk24 interviewed New Breed Art Competition winner, Toni Pretorius, on her winning work and found out a bit more about her background and upbringing. 

“Kompetisies is nie my gunsteling nie, maar die New Breed-kompetisie het my nie geïntimideer nie omdat dit net vir Vrystaters is en al die kunstenaars mekaar hier ken.”

Op die aand van die bekendmaking, vertel Toni Pretorius, het sy en haar vriendin Sandy Little tog maar vooraf “ietsie vir die senuwees geneem”. Toe word Little as een van twee merietewenners aangewys en Pretorius as die algehele wenner van die prokureursfirma Phatshoane Henney se eerste New Breed-kompetisie vir opkomende kunstenaars in die Vrystaat.

Die beoordelaars het Pretorius se werk, Amassing for our Carrion King, geloof as “verruklike kuns waarmee sy die moderne siening van sterflikheid, die kortstondigheid van die lewe en menslike gedrag uitbeeld”. Hulle het ook verwys na die hoogstaande gehalte van haar tegniek en vakmanskap gerugsteun deur ’n stewige konseptuele basis.

Die wenwerk bestaan uit nege spierwit porseleinvoëltjies, elkeen in sy eie hout-en-glaskassie gemonteer op glasplaatjies.

Porselein is nie net ’n skaars medium nie, dit is ook ’n moeilike medium en dit is juis waarom Pretorius dié kleisoort verkies. “Porselein is nie elasties nie, word so droog soos bordkryt en het nie tekstuur nie. Die kunstenaar moet die tekstuur skep. Dit is waarvan ek hou.

“Dit is ook breekbaar en kosbaar soos die lewe, net soos voëltjies.” Hierdie elemente is verteenwoordigend van Pretorius se tema van lewe en dood.

Dat dié 32-jarige kunstenaars se vakmanskap uitgelig is, verbaas haar nie. “Ek is báie presies in my werk. Ek hou van detail, baie fyn detail, en as dit nie alles perfek is nie, sal ek dit oor en oor doen totdat dit presies is soos ek dit wil hê.”

Dié eienskap en die feit dat sy ’n deeglike beplanner is, het sy van haar pa, ’n bouer in Kimberley, geërf. Haar kunssinnige gene kry sy van haar skilderkunstenaar-ma, Anne.

Pretorius sê kunsmateriale soos kryte, verf, klei en skilderdoek is standaard-items in haar ouerhuis. Van kleins af het sy geleer hoe om na voorwerpe te kyk en was sy omring van hul mooi tuin, kunstig-ingerigte huis en goeie musiek.

“Ons is altyd besig met een of ander projek. Nou nog. As ek naweke huis toe gaan, sal ons nie TV kyk nie, ons sal doenig wees in die werkskamer en ek sal selfs ’n bietjie houtwerk saam met my pa doen.”

Pretorius werk heeltyds as ’n ontwerper by die Nasionale Museum in Bloemfontein en beoefen haar kuns saans en oor naweke.

So deeglik as wat sy in haar werk is, so geroetineerd is sy. “Ek móét, anders gaan ek my vaardigheid verloor.”

In haar kop het sy reeds ’n hele boel voltooide werke wat sy moontlik vir ’n solo-uitstalling sal kan gebruik. Daar sal weer voëltjies wees en waarskynlik ook “muisies en reptieletjies” waarmee sy onlangs begin het, en alles beslis van porselein. Sy voorsien nie dat sy van die medium afstand sal doen nie.

Loopbaan

Pretorius het in 2002 gematrikuleer en in 2006 ’n diploma in visuele kuns aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf. Nadat sy ’n ruk lank gewerk het, het sy in 2011 ’n B.Tech-graad met beeldhoukuns as hoofvak aan die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) in Bloemfontein behaal.

Sy was sowat drie jaar lank ’n kunsdosent aan die Midrand Graduate Institute in Bloemfontein voordat sy by die museum aangestel is. Pretorius is so in haar skik met dié praktiese werk dat sy dit nie sal prysgee om heeltyds kuns te beoefen nie.

’n Vaste inkomste gee haar die vryheid om kuns te skep wat haar bevredig – “al koop niemand dit nie” – en hope tyd wat sy met haar perfeksionistiese aard nodig het. 

* Pretorius se prysgeld is R50 000. Helena de Waal het R20 000 as naaswenner ontvang. Die merietewenners Sandy Little en Mothobi Mefane ontvang R10 000 elk en Carmen van Staden, die publiek se keuse, ook R10 000. 
* Die finaliswerke kan nog tot 27 November in die Oliewenhuis-kunsmuseum besigtig word. 

 

 

Related

  • Recent
  • Popular
  • Tag