News article
  >  News  >  Article

Art competition exceeds expectations
19 September 2016

Art competition exceeds expectations

Entries for the Phatshoane Henney New Breed Art Competition have far exceeded expectations, with 216 artworks being received from all over the Free State, writes Elretha Britz in Volksblad and on Netwerk24.

Inskrywings vir Phatshoane Henney Prokureurs se New Breed-kompetisie vir visuele kuns het die stoutste verwagtinge oortref. ’n Indrukwekkende 216 kunswerke is ontvang vir dié eerste kompetisie vir opkomende kunstenaars in die ­Vrystaat.

Die totale prysgeld van R100 000, waarvan die algehele wenner R50 000 ontvang, was ongetwyfeld ’n groot lokmiddel. Die naaswenner steek R20 000 in sy of haar sak en twee merietewenners ontvang R10 000 elk. Die kunstenaar wie se werk die publiek as topkeuse op die webwerf aandui, kry ook R10 000.

Yolanda de Kock, ’n opvoedkundige beampte by die Oliewenhuis-kunsmuseum in Bloemfontein wat die kompetisie namens Phatshoane hanteer, het gesê van stokperdjiekunstenaars en studente tot heeltydse kunstenaars het ingeskryf. Van so ver soos Bethlehem, Harrismith en Clarens het hulle skilderye, beeldhoukuns, tekeninge en multimediawerke gebring.

Wat haar opgeval het, is die deelnemers se geesdrif. “Feitlik almal het gesê hulle wil van nou af al ons uitstallings en werksessies bywoon,” sê De Kock.

Ester le Roux, kurator van Oliewenhuis, is verras deur die groot verskeidenheid media, tegnieke en konsepte en bowenal deur die groot getal beeldhouwerke. “Gewoonlik word min driedimensionele kunswerke vir kompetisies ingeskryf, maar nie in dié geval nie.”

Magdel Louw, skakelbeampte van Phatshoane Henney Prokureurs, sê die groot getal inskrywings beteken die kompetisie slaag in sy doel om onontginde kunstenaars te vind en hul werk blootstelling te gee.

Die beoordelaars doen tans die keuring om die beste werke te vind, wat van 20 Oktober tot 27 November in Oliewenhuis en op die webwerf www.phinc.co.za uitgestal sal word.

Die wenners sal op 17 November bekend gemaak word.

Phatshoa­ne Henney sal die wenwerke en ’n handvol van die topwerke in sy almanak van 2017 en nuusbrief laat druk wat aan kliënte, korporatiewe instansies en staats­kliënte­ oor die land heen versprei word.

Van die werke sal ook die mure van die firma se hoofkantoor in Bloemfontein versier.

Related

  • Recent
  • Popular
  • Tag